Ek het daar weggetrek met ‘n dramatiese, diep stem; groot gebare; diergeluide en sommer die boek so heen en weer geswaai om wind te maak en hárd toegeklap! As donderweer. Storielyn opgemaak soos ons deur die boek geblaai het. En skielik was hulle vasgevang!
Elke aand het dit die hoogtepunt van slaaptyd geword. En (soms tot my spyt) het ek aand na aand Jan en die boontjierank “skêrie” gemaak.
Na baie herhaling het ons die volgende boek op die rak gevat en ook “skêrie” gemaak. En dan nog een, en nog een. En só het die idee vir die Hoendervleis reeks ontstaan.
Vir my is Hoendervleis baie sentimenteel, want nie net is die seuns die inspirasie agter Hoendervleis nie – ek hou daarvan om te sê dat húlle eintlik die ware kreatiewe breine daaragter is. Sonder hulle sou hierdie avontuur nooit begin het nie.